Lojaliteitsprogram lewer “beter groei as belegging by bank”
Die waarde verdien uit NWK se Lojaliteitsprogram vir die 2022/2023 finansiële jaar beloop ‘n enorme R15 395 343. Dit verteenwoordig ‘n geprojekteerde 2 705 684 NWK Beherend-aandele wat teen einde April 2024 aan klante toegeken sal word.
Heinrich Krüger, voorsitter van NWK se direksie, het hierdie statistieke onlangs by ‘n erkenningsgeleentheid van NWK se Lojaliteitsprogram bekendgemaak. Die toppunteverdieners in die onderskeie produkkategorieë is ook tydens die geleentheid uitgesonder.
NWK se Lojaliteitsprogram is in 2017 van stapel gestuur om lojale klante vir hul getroue ondersteuning te beloon. Daar word NWK Beherend-aandele aan hulle toegeken vir die waarde wat hulle uit die NWK Lojaliteitsprogram verdien het.
“Die Lojaliteitsprogram skep ‘n platform waarmee ons waardevolle inligting oor klante se voorkeure en behoeftes kan inwin. Dit stel NWK in staat om sy klantgerigte fokus te verskerp en te verbeter,” het Heinrich verduidelik.
Statistieke wys groei
- Daar is reeds meer as 3 000 individue en instellings vir die program geregistreer, met 4 681 NWK-rekeninge wat aan die registrasies gekoppel is.
- Meer as 82% van alle kommoditeite wat die afgelope seisoen aan NWK gelewer is, is deur klante van die Lojaliteitsprogram gelewer.
- Sowat 64% van NWK se omset vir die jaar wat uit aankope deur rekeninghouers verdien is, is te danke aan aankooptransaksies deur lede van die program. Dit dra tot meer as 66% van NWK se bruto wins uit rekeninghouers by.
- Die groep klante wat die aand erkenning ontvang het, verteenwoordig gesamentlik R2 116 367 se waarde wat gedurende die 2022/2023 finansiële jaar uit die program verdien is.
Lede van die program het sedert sy ontstaan in 2017 tot April 2023 meer as R54 miljoen se waarde verdien en daar is 11 708 159 NWK Beherend-aandele aan klante toegeken, asook R3 016 780 se krediete na NWK-rekeninge gepos vir dié waarde.
Beter as ‘n belegging by ‘n bank
Die totale aantal aandele wat uit die program toegeken is, is met die aandeelprys soos op 6 Februarie 2024 vermenigvuldig. Die verskil tussen die aandeelwaarde en die waarde verdien uit die program is teen mekaar opgeweeg om die groei in die waarde wat verdien is, te bepaal.
Dividende verdien op die toegekende aandele is ‘n verdere voordeel wat ingereken is en bydra tot verdere groei op die waarde verdien uit die program. Indien ‘n klant dus sedert die 2017/2018 NWK finansiële jaar aan die program deelgeneem en toegekende aandele gehou het, het die randwaarde wat hy/sy uit die program verdien het tot Februarie 2024 met 29% gegroei voor dividende.
Indien jy die dividende wat verdien is by die som inreken, is die groei in randwaarde verdien uit die program 59%. “Die syfers spreek vanself dat dit enige groei op ‘n belegging by byvoorbeeld ‘n bank oorskry,” het Heinrich gesê.
Die lede van die program wat by die geleentheid vereer is, se omset met NWK vir die 2022/2023 boekjaar het meer as R235 miljoen beloop. Dit behels 4,9% van NWK Beperk se totale omset vir die jaar.
Toppresteerders
Richard Hobson van Botselo Farming (Edms.) Bpk. is 2023 se toppunteverdiener. Hy kon nie die geleentheid bywoon nie, maar word met ‘n LekkeSlaap-koopbewys van R25 000 beloon.
Die ander toppunteverdieners is Marius Nel (M. Nel Boerdery), Jaco Botha van Murasie Boerdery (Edms.) Bpk., Rupert Richter van Shomene (Pty.) Ltd., Jo-Ané Joubert van Volumart (Pty.) Ltd., Bennie van Wyk (Van Wyk Boerdery), Nico Bouwer (Bouwer Boerdery), Kobus Cordier, Christo van Niekerk van VNB Boerdery (Edms.) Bpk. en Louis Meyer van Tommiesrus (Edms.) Bpk.
Die toppunteverdieners in die onderskeie produkkategorieë is:
- Rupert Richter van Shomene (Pty.) Ltd. (totale aankope).
- Wikus Bouwer (landbouchemikalieë).
- Willie Marx (landbousaad).
- Louis Meyer van Tommiesrus (Edms.) Bpk. (dieremedisyne en veevoer).
- Riaan Swanepoel van Maxiflex Dams CC (boumateriaal en staal).
- Johan Steyn (kunsmis).
- Jo-Ané Joubert van Volumart (Pty.) Ltd. (brandstof en smeermiddels).
- Rudolph Loest van Eagles Pride Hatchery (Pty.) Ltd. (besproeiingstoerusting).
- Gert Coetzee van Mooiveld Trust (meganisasie).
Deoni Strydom van Rietgat Trust het jaar-op-jaar die beste persentasie groei in punte getoon. “Jy word beloon vir elke rand wat jy spandeer en kry soveel terug deur jou bydrae,” het Deoni ná afloop van die geleentheid gesê.
“Dit is ‘n goedvoel-program wat jou beloon vir wat jy spandeer! As boere ‘leef, eet en slaap’ ons boerdery. Dié toekenning het ons as ‘n span opnuut rede gegee om op te staan en voort te gaan. Ons is van voor af gemotiveer om vir die toekoms van die land en ons bevolking te voorsien, asook om ten spyte van alle terugslae voedselsekuriteit te skep.
“Ons kan net ons Hemelse Vader dank vir die voorreg, genade en groei. Mag elke boer saam met ons aan die Lojaliteitsprogram deelneem en weet wat dit beteken om waarde vir jou geld te kry!”